MOBIE G OP MXIT
Ons kinders leef in ‘n ingewikkelde wêreld. Waar vra hulle vir hul krisisse hulp en raad wat betroubaar is? Ongelukkig kry hul soms raad by slegte plekke, soos maats of TV.
Ons is opgewonde dat ‘n droom om baie kinders te help sopas in ons gemeente begin waar word. Dr Willem Wiid, predikant in NG Waterval (die mooi ou kerkie op die hoek van Gordon- en Longstr.) het ‘n paar jaar gelede die behoefte van kinders om anoniem via hul selfone raad te vra, raakgesien. Hy het sy suster as IT dosent gevra om sagteware hiervoor te ontwikkel.
So is MobieG gebore. Dis ‘n “inbelsentrum” waar kinders met hul selfone op MXit kan raad vra oor enige nood in hul hart of lewe, klein of groot. Soms is dit klein dingetjies soos my hond wat dood is, of ‘n stamgeveg wat ek met ma-hulle gehad het, maar ook ernstige probleme soos bv date rape, dwelms, aanranding, anorexia ens.
Ds Henk Theart, dr Willem Wiid, Stephnie Crouse, Elize Theron en ‘n groep sakemanne het die afgelope 3 maande ‘n enorme klomp voorbereidings gedoen.
Beraders is opgelei. Advies en gebruik van die sagteware is gekry van RLabs (‘n kerk op die Kaapse vlakte wat reeds die metode benut). Tien skootrekenaars is aangekoop. Twee inbelsentrums is gevestig, in Waterval en ons jeuglokaal.
Die voordeel van hierdie stelsel is:
1) Dit is goedkoop (ongeveer 1 sent per minuut),
2) Daar is geen wagtyd soos by ander telefoniese hulplyne nie (waar jy soms wag tot die volgende operateur beskikbaar word en soms moed opgee of koue voete kry en die foon neersit),
3) Jy kan tussen ander mense op enige plek wees en hulp kry (nie soos telefoniese of gesig tot gesig gesprekke waar ‘n mens stilte en privaatheid nodig het nie) en
4) Dit is totaal en al anoniem.
Van 18 Julie kan enige kind Di.+Do 19-21:00 en Wo.17-19:00 via MXit vrae vra, en betroubare, Bybelse antwoorde kry. Die fasilitering word gedoen deur opgeleide span fasiliteerders en is altyd onder toesig van ‘n spesialis berader. Daar is ook bystand deur professionele mense soos bv mediese dokters, spesialis beraders op ‘n wye verskeidenheid van velde, regsgeleerdes en veel meer.
Help asb deur te bid. Beraders is nodig. ‘n Donasie kan die baie koste van rekenaars en opleidingsmateriaal help dra (via kerkkantoor). Daar is geen grense waar ons 2 gemeentes nou kan werk nie (die Kaapse RLabs het al 3 miljoen gesprekke gehad!).
