Omgeegroepe
KOPSKUIF OOR GROEPE
Selgroepe verryk jou geloof enorm. Selgroepe is dié plek vir vriendskap in ons groot stad. Maar selgroepe bereik tans heeltemal te min mense in Quellerina.
Daarom het ons ’n nuwe droom oor groepe vir 2012: gespreksgroepe en projekgroepe. Kortliks opgesom is hierdie model: kort-termyn groepe met ±15 lede rondom ‘n verskeidenheid aktuele temas of projekte vir lidmate én besoekers, en wat mense nie oorlaai nie.
Ons gespreksgroepe volg die sg. Activate-model. Hierdie model het dit reggekry om 100% van ‘n gemeente in gespreksgroepe te betrek deur ‘n paar tradisionele denkwyses oor selgroepe effens te verander. –
- Tradisioneel was selgroepe langtermyn, maar mense sluit tans nie aan by iets wat onbepaald aanhou nie. Ons nuwe model is korttermyn-groepe wat vorm vir 4 maande rondom ‘n sekere doel. Korttermyn is meer realisties, en mens ontdek lekker nuwe vriende in daardie tyd.
- Tradisioneel was selgroepe klein: net omtrent 8 lede vir intieme gesels. Ons nuwe model het 12-20 lede. Dan is daar altyd genoeg teenwoordig ten spyte van afwesigheid met werk en reis, en in ‘n groter groep is daar meer opinies en deelname.
- Tradisioneel het groepe eers gevorm en daarna temas gekies. Ons nuwe groepe vorm juis deurdat ‘n prikkelende tema of projek mense laat kies om juis by daardie groep in te skakel. ‘n Spyskaart van temas, leiers, tye, en soms tipes lede, laat mense sonder moeite kies vir ‘n spesifieke groep. Groepe kry gespreksmateriaal uit ‘n biblioteek by die kerkkantoor.
- Tradisioneel is net lidmate ook by selgroepe. In ons nuwe groepe kan enige vriend of besoeker vir daardie beperkte tydperk inskakel as die tema of projek hul interesseer. Nooi ‘n vriend saam.
Ons projekgroepe gaan mense vriende laat word deur saamwerk, nie saamgesels nie. .
- Tradisioneel het selgroepe net gesels. In ons nuwe groepe gaan saamwerk aan ‘n projek die doeners aan mekaar verbind as vriende. Veral mans word lekkerder vriende deur saamwerk (bv. extreme makeover an ‘n huis vir arm gesin) as deur gesels
- Tradisioneel het net die kernlidmate van ‘n gemeente nog tyd gemaak vir ‘n selgroep ook. In ons nuwe groepe gaan groepe al die projekte hanteer sodat die kernlidmate nie deur te veel aksies ooreis word nie. Elke lidmaat dien by sy/haar één passie.
Wat sal op die spyskaart wees?
In Januarie 2012 gaan ons ‘n spyskaart van gespreks- en projekgroepe uitdeel. Kies dan ‘n groep, en vanaf Feb. 2012 vir 4 maande gaan jy verryk word met woorde, dade en vriende.
Wat gesprek betref: Geldsake, ouerskap vir jong én volwasse kinders, boekbesprekings, oorleef by jou werk, Bybelse leierskap, toepassing van Sondag se preek, ‘n groep virverwagtende ma’s, ens. ens.
Wat projekte betref: steungroepe vir Claremont, ‘n ouetehuis en MobieG, reël van kuiergeleenthede vir Quellerina, ens.
